Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:46-54 Afrikaans 1983 (AFR83)

46. “Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee, sodat hulle as gevangenes weggevoer word na die vyand se land toe, ver of naby,

47. en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig,’

48. en hulle tot U wend met hart en siel in die land van hulle vyande wat hulle gevange hou, en hulle bid tot U in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat deur U gekies is en die tempel wat ek vir u Naam gebou het,

49. luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg

50. en vergeef u volk wat teen U gesondig het, vergeef hulle al hulle opstandigheid teen U en laat dié wat hulle gevange hou, met hulle medelye hê,

51. want hulle is u eie volk, U het hulle uitgelei uit Egipte, uit die smeltoond uit.

52. “Wees tog ontvanklik vir die smeking van u dienaar en u volk Israel, verhoor tog elke gebed wat hulle tot U rig.

53. U het hulle onder al die volke van die wêreld afgesonder as 'n volk vir U, Here. Dit het gebeur soos U, Here, deur u dienaar Moses gesê het toe U ons voorvaders uit Egipte gebring het.”

54. Nadat Salomo klaar hierdie gebed en smeking tot die Here gerig het, het hy opgestaan van waar hy voor die altaar van die Here gekniel het met sy hande uitgestrek na die hemel toe.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8