Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3:3-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het. Hy het egter nog op die hoogtes offers gebring.

4. Koning Salomo het na Gibeon toe gegaan om daar te offer, omdat die vernaamste hoogte daar was. Salomo het op daardie altaar duisend brandoffers gebring.

5. Daar in Gibeon het die Here die nag in 'n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?”

6. Toe sê Salomo: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys. Hy was in sy lewe getrou en gehoorsaam en opreg teenoor U. U het hierdie groot trou aan hom bewys en vir hom 'n seun gegee wat vandag op sy troon sit.

7. Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare

8. en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, 'n groot volk, te veel om te tel.

9. Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”

10. Die Here het dit goedgevind dat Salomo dít gevra het.

11. Hy het vir hom gesê: “Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou 'n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is,

12. sal Ek aan jou versoek voldoen. Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand vóór jou gehad het of ná jou sal hê nie.

13. Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: rykdom en aansien, sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees solank jy leef nie.

14. As jy jou in jou optrede hou aan my voorskrifte en gebooie soos jou vader Dawid gedoen het, sal Ek jou ook nog 'n lang lewe gee.”

15. Toe Salomo wakker word, het hy besef dat die Here in 'n droom aan hom verskyn het. Hy is toe terug na Jerusalem toe, en daar het hy voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers en maaltydoffers gebring. Hy het ook 'n feesmaal vir al sy amptenare gegee.

16. Op 'n keer het twee prostitute met 'n saak na die koning toe gekom.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 3