Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Salomo het hom verbind aan die familie van die farao, die koning van Egipte. Hy het getrou met die dogter van die farao en haar in die Dawidstad laat woon totdat hy sy paleis en die tempel van die Here en die muur rondom die stad klaar gebou het.

2. In daardie dae het die volk nog altyddeur op die hoogtes geoffer, omdat daar nog nie 'n tempel vir die Naam van die Here opgerig was nie.

3. Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het. Hy het egter nog op die hoogtes offers gebring.

4. Koning Salomo het na Gibeon toe gegaan om daar te offer, omdat die vernaamste hoogte daar was. Salomo het op daardie altaar duisend brandoffers gebring.

5. Daar in Gibeon het die Here die nag in 'n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?”

6. Toe sê Salomo: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys. Hy was in sy lewe getrou en gehoorsaam en opreg teenoor U. U het hierdie groot trou aan hom bewys en vir hom 'n seun gegee wat vandag op sy troon sit.

7. Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare

8. en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, 'n groot volk, te veel om te tel.

9. Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 3