Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 11:28-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. Jerobeam was 'n gesiene landsburger, en toe Salomo sien dat hy bekwaam is, het hy die toesig oor die dwangarbeid van die Josefstam aan hom opgedra.

29. Dit was in hierdie tyd dat Agija, 'n profeet uit Silo, vir Jerobeam op die pad buite Jerusalem teëgekom het. Agija het 'n nuwe mantel aangehad, en terwyl net hulle twee daar in die veld was,

30. vat Agija die nuwe mantel wat hy aangehad het, skeur dit in twaalf stukke

31. en sê vir Jerobeam: “Vat vir jou tien stukke, want so sê die Here die God van Israel: So gaan Ek die koningskap afskeur van Salomo af. Ek gaan vir jou tien stamme gee;

32. die orige stam sal syne bly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek tussen al die stamme van Israel uitgekies het.

33. Maar Salomo het My verlaat en Astarte die godin van die Sidoniërs, Kemos die god van Moab, en Milkom die god van die Ammoniete, aanbid. Hy het nie meer geleef volgens my wil en gedoen wat reg is in my oë nie of my voorskrifte en bepalings nagekom soos sy vader Dawid gedoen het nie.

34. Ek sal nogtans nie die hele koningskap van hom wegvat nie. Ek sal hom sy lewe lank koning laat bly ter wille van my dienaar Dawid wat Ek uitverkies het en wat hom aan my gebooie en voorskrifte gehou het,

35. maar Ek gaan die koningskap van sy seun af wegvat. Ek gaan tien stamme vir jou gee

36. en vir sy seun gaan Ek net een gee, sodat die troon van my dienaar Dawid bestendig sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek verkies het om my Naam daar te vestig.

37. “Ek gaan jou as koning aanstel, soos dit jou hartsbegeerte is. Jy sal oor Israel regeer.

38. As jy gehoor gee aan alles wat Ek jou sal beveel, as jy jou lewe inrig volgens my wil, as jy doen wat reg is in my oë deurdat jy jou hou aan my voorskrifte en gebooie, soos my dienaar Dawid gedoen het, sal Ek by jou wees. Soos Ek Dawid se nageslag in stand hou, sal Ek joune ook in stand hou. Ek sal Israel aan jou gee

39. en ter wille daarvan sal Ek die nageslag van Dawid verneder, maar nie vir altyd nie!”

40. Hierna wou Salomo vir Jerobeam om die lewe bring. Jerobeam het egter na Egipte toe gevlug waar hy onder beskerming van koning Sisak van Egipte gebly het tot Salomo se dood.

41. Die ander verhale oor Salomo en alles wat hy gedoen het, en oor sy wysheid is opgeteken in die annale van Salomo.

42. Salomo was veertig jaar koning in Jerusalem oor die hele Israel.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 11