Ou Testament

Nuwe Testament

Titus 3:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is.

2. Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.

3. Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.

4. Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn.

5. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.

6. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.

7. So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.

8. Dit is 'n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.

9. Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinloos.

10. Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie,

11. omdat jy weet dat so 'n man op die verkeerde pad is. Deur sy sonde bring hy die oordeel oor homself.

Lees volledige hoofstuk Titus 3