Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 8:21-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.

22. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

23. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry.

24. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien?

25. Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.

27. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

28. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

29. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.

30. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

31. Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?

32. Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33. Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.

Lees volledige hoofstuk Romeine 8