Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 8:14-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.

15. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.

16. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

17. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

18. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.

19. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is.

20. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee:

21. die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.

22. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

23. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry.

24. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien?

25. Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

Lees volledige hoofstuk Romeine 8