Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8:10-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie.

11. Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel.

12. Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.”

13. Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.”En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.

14. Toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy Petrus se skoonmoeder siek lê met 'n hoë koors.

15. Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien.

16. Toe dit aand word, het hulle baie wat in die mag van bose geeste was, vir Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf en al die siekes gesond gemaak.

17. So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is:“Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.”

18. Toe Jesus die menigte mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee om na die oorkant toe te vertrek.

19. 'n Skrifgeleerde kom toe nader en sê vir Hom: “Meneer, ek sal u volg waar u ook al gaan.”

20. Jesus sê vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”

21. Iemand anders, een van sy dissipels, sê vir Hom: “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.”

22. Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.”

23. Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.

24. Skielik het daar 'n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap.

25. Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!”

26. Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword.

Lees volledige hoofstuk Matteus 8