Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Jesus het afgekom van die berg af, en 'n groot menigte mense het saam met Hom gegaan.

2. 'n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

3. Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg.

4. Jesus sê toe vir hom: “Jy moet dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

5. Nadat Jesus in Kapernaum aangekom het, het 'n offisier by Hom hulp kom vra

6. en gesê: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.”

7. En Jesus antwoord hom: “Ek sal hom kom gesond maak.”

8. Maar die offisier sê: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf sal gesond word.

9. Ek is ook 'n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

10. Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie.

11. Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel.

12. Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.”

13. Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.”En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.

14. Toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy Petrus se skoonmoeder siek lê met 'n hoë koors.

15. Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien.

Lees volledige hoofstuk Matteus 8