Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27:38-58 Afrikaans 1983 (AFR83)

38. Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom.

39. Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud

40. en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”

41. Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê:

42. “Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo.

43. Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!”

44. Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

45. Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur.

46. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

47. Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”

48. Een van hulle hardloop toe gou, vat 'n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op 'n stok vir Hom om te drink.

49. Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”

50. Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

51. Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars.

52. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek,

53. en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

54. Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

55. Daar was ook baie vroue wat op 'n afstand gestaan en kyk het. Dit is hulle wat vir Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het.

56. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

57. Laat die middag het daar 'n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook 'n volgeling van Jesus was.

58. Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word.

Lees volledige hoofstuk Matteus 27