Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:5-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”

6-7. Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was, het 'n vrou by Jesus gekom met 'n albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet.

8. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig. “Waarom so 'n verkwisting?” vra hulle.

9. “'n Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en dit vir armes gegee het.”

10. Jesus het dit gemerk en vir hulle gesê: “Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen.

11. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.

12. Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis.

13. Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.”

14. Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan

15. en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal.

16. Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

17. Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

18. Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ ”

19. Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.

20. Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf.

Lees volledige hoofstuk Matteus 26