Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:46-58 Afrikaans 1983 (AFR83)

46. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

47. Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was 'n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.

48. Die verraaier het met die manne 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!”

49. Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen.

50. Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!”Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange.

51. Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af.

52. Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.

53. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.

54. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

55. Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie.

56. Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.”Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

57. Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het.

58. Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop.

Lees volledige hoofstuk Matteus 26