Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:37-47 Afrikaans 1983 (AFR83)

37. Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword

38. en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”

39. Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

40. Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie?

41. Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

42. 'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

43. Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie.

44. Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê.

45. Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee.

46. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

47. Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was 'n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.

Lees volledige hoofstuk Matteus 26