Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 25:8-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’

9. Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’

10. “Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.

11. “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’

12. Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’

13. “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”

14. “Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou.

15. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan.

16. “Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf.

17. So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee.

18. Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

19. “Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra.

Lees volledige hoofstuk Matteus 25