Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 25:17-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee.

18. Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

19. “Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra.

20. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: ‘Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.’

21. Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

22. “Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’

23. Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

24. “Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u 'n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie.

25. Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’

26. Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is 'n slegte en 'n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie.

27. Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het.

28. Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het.

29. Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.

30. En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ”

31. “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.

Lees volledige hoofstuk Matteus 25