Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:7-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees.

8. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

9. “Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely.

10. In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat.

11. “Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei.

12. Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel.

13. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.

14. En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”

15. “Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan — wie dit lees, moet dit goed begryp —

16. dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug.

17. Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om sy goed uit die huis te gryp nie,

18. en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie.

19. “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het.

20. Bid dat julle nie in die winter of op 'n sabbatdag hoef te vlug nie,

21. want in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie.

22. En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.

Lees volledige hoofstuk Matteus 24