Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 14:25-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom.

26. Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.

27. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

28. Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

29. “Kom!” sê Hy.Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom.

30. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”

31. Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

32. Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê.

33. Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”

34. Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan.

35. Net toe die mense van daardie plek agterkom wie Hy is, het hulle boodskappers deur daardie hele omgewing gestuur, en die mense het almal wat ongesteld was, na Hom toe gebring.

36. Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.

Lees volledige hoofstuk Matteus 14