Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 13:41-53 Afrikaans 1983 (AFR83)

41. Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree,

42. en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.

43. Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.“Wie ore het, moet luister.”

44. “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

45. “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n handelaar wat op soek is na goeie pêrels.

46. As hy 'n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

47. “Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met 'n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang.

48. As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg.

49. So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies

50. en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

51. “Verstaan julle al hierdie dinge?”“Ja,” antwoord hulle Hom.

52. Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat 'n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos 'n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”

53. Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan.

Lees volledige hoofstuk Matteus 13