Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Verder het Hy vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie.”

2. Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander,

3. en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie.

4. Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.

5. Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

6. Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.

7. Daar het toe 'n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar 'n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”

8. En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle.

9. Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle opdrag gegee om wat hulle gesien het, vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 9