Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 5:35-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

35. Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36. Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37. Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie.

38. Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan.

39. Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40. Hulle het Hom uitgelag.Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was.

41. Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42. Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing.

43. Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

Lees volledige hoofstuk Markus 5