Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 4:6-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog.

7. 'n Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie.

8. Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en 'n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.”

9. Verder het Hy gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

10. Toe hulle alleen was, het die mense wat saam met die twaalf by Hom was, Hom oor die gelykenisse uitgevra,

11. en Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die insig in die geheim van die koninkryk van God gegee; maar vir dié wat daarbuite is, bly alles net by gelykenisse,

12. sodat“hulle kyk en kyk en tog nie sien nie,en hoor en hoor en tog nie verstaan nie,dat hulle hulle nie miskien bekeer en vergewe word nie.”

13. Hy sê toe vir hulle: “Julle begryp nie eens hierdie gelykenis nie. Hoe sal julle dan al die ander gelykenisse kan verstaan?

14. “Die saaier saai die woord.

15. Daar is mense by wie daar soos op 'n pad gesaai word: sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is.

16. Daar is mense by wie daar soos op klipbanke gesaai word: sodra hulle die woord hoor, neem hulle dit met blydskap aan.

17. Hulle laat dit egter nie in hulle wortel skiet nie en hou nie lank uit nie. As hulle daarna ter wille van die woord verdruk of vervolg word, word hulle gou afvallig.

18. Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor,

19. maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug.

20. Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.”

21. Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp kom mos nie onder 'n emmer of onder 'n bed nie? Is dit nie bedoel om op 'n staander gesit te word nie?

22. Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom.

23. As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!”

24. Hy het ook vir hulle gesê: “Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word.

Lees volledige hoofstuk Markus 4