Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14:26-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

26. Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

27. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe:“Ek sal die herder doodmaak,en die skape sal uitmekaar gejaag word.

28. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.”

29. Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”

30. Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan 'n tweede keer kraai, My drie keer verloën.”

31. Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”En al die ander het dieselfde gesê.

32. Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”

33. Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword

34. en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

35. Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie.

36. Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

37. Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie?

38. Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

39. Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek.

40. Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

41. Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee.

42. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

43. Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met 'n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur.

Lees volledige hoofstuk Markus 14