Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14:14-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’

15. Hy sal julle dan 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.”

16. Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei.

17. Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan.

18. Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.”

19. Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?”

20. Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek.

21. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

22. Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.”

23. Toe neem Hy 'n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink.

24. Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word.

25. Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.”

26. Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

27. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe:“Ek sal die herder doodmaak,en die skape sal uitmekaar gejaag word.

28. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.”

29. Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”

30. Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan 'n tweede keer kraai, My drie keer verloën.”

31. Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”En al die ander het dieselfde gesê.

Lees volledige hoofstuk Markus 14