Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10:6-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’

7. ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe,

8. en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een.

9. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.”

10. In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra.

11. Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou.

12. En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”

13. Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas.

14. Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.

15. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

16. Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.

17. Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

18. Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen.

19. Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.”

20. “Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”

Lees volledige hoofstuk Markus 10