Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10:38-52 Afrikaans 1983 (AFR83)

38. “Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”

39. “Ons kan,” sê hulle vir Hom.Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word.

40. Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.”

41. Toe die tien ander dit hoor, was hulle verontwaardig oor Jakobus en Johannes.

42. Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik.

43. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees;

44. en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees.

45. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

46. Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en 'n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar 'n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad.

47. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

48. Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

49. Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.”Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”

50. Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan.

51. Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”“Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.”

52. Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.

Lees volledige hoofstuk Markus 10