Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:44-54 Afrikaans 1983 (AFR83)

44. Terwyl almal verbaas was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Wat julle betref, hou hierdie woorde goed in gedagte: Die Seun van die mens gaan in die hande van mense oorgelewer word.”

45. Maar hulle het hierdie uitspraak nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle bedek sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Jesus daaroor uit te vra.

46. Daar het 'n stryery onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is.

47. Jesus het geweet met watter gedagtes hulle besig was, en Hy trek 'n kindjie nader om langs Hom te kom staan.

48. Toe sê Hy vir hulle: “Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hý is groot.”

49. Toe sê Johannes: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdryf, en ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.”

50. Maar Jesus sê vir hom: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vír julle.”

51. Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin

52. en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël.

53. Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was.

54. Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”

Lees volledige hoofstuk Lukas 9