Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:18-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Op 'n keer terwyl Jesus eenkant besig was om te bid, het sy dissipels by Hom saamgekom. Toe vra Hy hulle: “Wie, sê die mense, is Ek?”

19. Hulle antwoord: “Johannes die Doper; party sê weer: Elia, en party: 'n profeet van die ou tyd het opgestaan.”

20. “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”Toe antwoord Petrus: “Die Gesalfde van God.”

21. Jesus het hulle uitdruklik belet om dit vir ander mense te vertel,

22. “want,” het Hy gesê, “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”

23. Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg,

24. want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.

25. “Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?

26. Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele.

27. Ek sê vir julle die waarheid: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterf voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.”

28. Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid.

29. Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit.

30. Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia.

31. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9