Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:13-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. “Gee julle vir hulle iets om te eet,” sê Hy toe vir hulle.Maar hulle antwoord: “Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie. Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?”

14. Net die mans bymekaar was al omtrent vyf duisend.Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Laat die mense in groepe van sowat vyftig gaan sit om te eet.”

15. Hulle het toe so gemaak en almal laat regsit.

16. Daarna het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Toe breek Hy dit en gee dit vir die dissipels om aan die mense voor te sit.

17. Almal het geëet en genoeg gekry. Wat oorgebly het, het hulle bymekaargemaak, twaalf mandjies vol.

18. Op 'n keer terwyl Jesus eenkant besig was om te bid, het sy dissipels by Hom saamgekom. Toe vra Hy hulle: “Wie, sê die mense, is Ek?”

19. Hulle antwoord: “Johannes die Doper; party sê weer: Elia, en party: 'n profeet van die ou tyd het opgestaan.”

20. “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”Toe antwoord Petrus: “Die Gesalfde van God.”

21. Jesus het hulle uitdruklik belet om dit vir ander mense te vertel,

22. “want,” het Hy gesê, “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”

23. Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg,

24. want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.

25. “Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?

Lees volledige hoofstuk Lukas 9