Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:12-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Toe die son begin sak, kom die twaalf na Hom toe en sê: “Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.”

13. “Gee julle vir hulle iets om te eet,” sê Hy toe vir hulle.Maar hulle antwoord: “Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie. Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?”

14. Net die mans bymekaar was al omtrent vyf duisend.Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Laat die mense in groepe van sowat vyftig gaan sit om te eet.”

15. Hulle het toe so gemaak en almal laat regsit.

16. Daarna het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Toe breek Hy dit en gee dit vir die dissipels om aan die mense voor te sit.

17. Almal het geëet en genoeg gekry. Wat oorgebly het, het hulle bymekaargemaak, twaalf mandjies vol.

18. Op 'n keer terwyl Jesus eenkant besig was om te bid, het sy dissipels by Hom saamgekom. Toe vra Hy hulle: “Wie, sê die mense, is Ek?”

19. Hulle antwoord: “Johannes die Doper; party sê weer: Elia, en party: 'n profeet van die ou tyd het opgestaan.”

20. “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”Toe antwoord Petrus: “Die Gesalfde van God.”

21. Jesus het hulle uitdruklik belet om dit vir ander mense te vertel,

22. “want,” het Hy gesê, “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 9