Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:25-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Hulle het bedaar, en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?”Maar hulle was verskrik en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!”

26. Daarna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê.

27. Toe Jesus daar aan wal gaan, het 'n man van 'n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het 'n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in 'n huis gebly nie, maar tussen grafte.

28. Toe hy Jesus sien, skreeu hy en val op sy knieë voor Hom neer terwyl hy hard uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!”

29. Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan. Dit was 'n bose gees wat hom al baiekeer beetgepak het. Al het hulle hom met hand- en voetboeie vasgemaak om hom in bedwang te hou, het hy die boeie uitmekaar geruk en is hy deur die bose gees die woestyn in gejaag.

30. Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”“Legio,” antwoord hy, want daar het baie bose geeste in hom ingevaar.

31. Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onderaardse diepte toe terug te stuur nie.

32. Daar het 'n hele trop varke teen die berg geloop. Die bose geeste het Jesus gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar. Hy het hulle dit toegelaat,

33. en die bose geeste het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop sit toe op loop teen die hang af, die see in, en hulle versuip.

34. Toe die wagters sien wat gebeur het, hardloop hulle weg en gaan vertel dit in die dorp en op die plase.

35. Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, en hulle het bang geword.

36. Maar dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene genees is.

37. Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan.

38. Die man uit wie die bose geeste uitgevaar het, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom weggestuur en gesê:

Lees volledige hoofstuk Lukas 8