Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig.Die twaalf was saam met Hom

2. en daarby 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe bose geeste uitgegaan het,

3. en Johanna die vrou van Gusa, 'n hoë amptenaar van Herodes, en Susanna en baie ander. Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg.

4. Uit die verskillende dorpe het aanhoudend mense na Jesus toe gestroom, en toe 'n groot menigte saamgekom het, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel:

5. “'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Met die saai het 'n deel op die pad geval, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik.

6. 'n Ander deel het op 'n klipbank geval, en nadat dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.

7. Nog 'n ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het daarmee saam gegroei en dit laat verstik.

8. Daar was ook 'n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en 'n honderdvoudige oes gelewer.”Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

9. Sy dissipels het Hom gevra wat die betekenis van hierdie gelykenis is.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8