Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:39-50 Afrikaans 1983 (AFR83)

39. Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret.

40. Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

41. Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan.

42. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees.

43. En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het.

44. Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle 'n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het.

45. Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom.

46. Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra.

47. Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde.

48. Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”

49. Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”

50. Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 2