Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:34-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

34. Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word.

35. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”

36. Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood

37. het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid.

38. Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.

39. Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret.

40. Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

41. Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan.

42. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees.

43. En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het.

44. Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle 'n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het.

45. Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom.

46. Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra.

47. Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde.

48. Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 2