Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:3-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.

4. Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het.

5. Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word.

6. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.

7. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

8. Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.

9. Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik.

10. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.

11. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!

12. En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.”

13. Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:

14. “Eer aan God in die hoogste hemel,en vrede op aardevir die mense in wie Hy 'n welbehae het!”

15. Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”

16. Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê.

17. Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is.

Lees volledige hoofstuk Lukas 2