Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 15:21-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’

22. Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!

23. En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!

24. Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.

25. “Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery.

26. Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is.

27. Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’

28. “Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom;

29. maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos 'n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek 'n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie.

30. Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’

31. “Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.

32. Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.’ ”

Lees volledige hoofstuk Lukas 15