Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 14:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Op 'n sabbatdag toe Jesus na die huis van 'n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou.

2. Reg voor Hom was daar 'n man wat aan water gely het.

3. Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: “Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?”

4. Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan.

5. Daarna sê Hy vir hulle: “Sê nou 'n seun of 'n bees van een van julle val in 'n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op 'n sabbatdag?”

6. Hulle kon daar niks op antwoord nie.

7. Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis:

8. “As iemand jou na 'n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy.

9. Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem.

10. Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor.’ Dan sal jy in die agting van al die gaste styg.

11. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 14