Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 13:24-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Hy sê vir hulle: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.

25. “As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal julle antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’

26. Dan sal julle sê: ‘Ons het saam met U geëet en gedrink, en op ons strate het U die mense geleer.’

27. Maar Hy sal weer vir julle sê: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom!’

28. “Daar sal julle huil en op julle tande kners wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete binne-in die koninkryk van God sal sien, terwyl julle self buitentoe weggejaag word.

29. “Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God.

30. Onthou net: Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.”

31. Op daardie selfde oomblik het 'n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: “U moet padgee en na 'n ander plek toe gaan, want Herodes wil u doodmaak.”

32. Maar Hy sê vir hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals: ‘Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.’

Lees volledige hoofstuk Lukas 13