Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:2-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.

3. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.”

4. “Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie.

5. Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees.

6. “Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie.

7. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

8. “Ek sê vir julle: Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God.

9. Maar hy wat My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word.

10. “Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word; maar hy wat teen die Heilige Gees laster, kan nie vergewe word nie.

11. “Wanneer hulle julle voor sinagoges en owerhede en gesagvoerders bring, moet julle julle nie bekommer oor hoe of waarmee julle julle gaan verdedig of wat julle gaan sê nie,

12. want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat gesê moet word.”

13. Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.”

14. Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?”

15. Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

16. Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “'n Ryk man se grond het goed gedra.

17. Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.

18. Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar.

19. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’

Lees volledige hoofstuk Lukas 12