Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:14-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?”

15. Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

16. Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “'n Ryk man se grond het goed gedra.

17. Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.

18. Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar.

19. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’

20. Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’

21. So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

22. Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie.

23. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere.

24. Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls.

25. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng?

26. As julle nie eens so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?

Lees volledige hoofstuk Lukas 12