Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:37-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

37. Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem.

38. Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie.

39. Maar die Here sê vir hom:“Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid.

40. Julle dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie?

41. Gee liewer wat in die bekers en borde is, vir die armes, dan sal alle dinge vir julle rein wees.

42. Maar ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en elke soort kruie, maar verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.

43. “Ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle hou van die ereplek in die sinagoges en om op straat eerbiedig begroet te word.

44. Ellende wag vir julle, want julle is soos onherkenbare grafte waaroor die mense loop sonder om dit te weet.”

45. Toe sê een van die wetgeleerdes vir Jesus: “Meneer, as u so praat, beledig u ons ook.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 11