Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:21-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. “Wanneer 'n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig.

22. Maar as daar een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al die wapens af waarop hy hom verlaat het, en hy verdeel sy besittings as buit.

23. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.”

24. “Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’

25. Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant.

26. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n man slegter daaraan toe as aan die begin.”

27. Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het 'n vrou uit die menigte hardop uitgeroep en vir Hom gesê: “Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!”

28. Maar Hy sê: “Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.”

29. Toe die mense aanhou saamdrom, het Jesus hulle begin toespreek en gesê: “Die mense van hierdie tyd is 'n verdorwe geslag. Hulle vra 'n wonderteken, maar daar sal geen teken aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona.

30. Net soos Jona vir die mense van Nineve 'n teken was, so sal die Seun van die mens 'n teken wees vir die mense van vandag.

31. Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!

32. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Die mense van Nineve het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!”

33. “'n Mens steek nie 'n lamp op en sit dit dan weg in 'n kelder of onder 'n emmer nie. Nee, jy sit dit op 'n staander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien.

34. Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.

35. Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie.

36. As jou hele liggaam verlig is en nie 'n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer 'n lamp jou met sy skynsel verlig.”

37. Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem.

38. Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 11