Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:10-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

11. Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis?

12. Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee?

13. As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee — die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

14. Jesus het op 'n keer 'n bose gees uitgedryf uit iemand wat nie kon praat nie. Net nadat die bose gees uitgegaan het, het die stom man begin praat. Die mense het hulle verwonder,

15. maar party van hulle het gesê: “Dit is met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste, dat hy geeste uitdrywe.”

16. Ander wou Hom op die proef stel deur van Hom 'n wonderteken uit die hemel te vra.

17. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en 'n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar.

18. As die Satan dan teen homself verdeeld is, hoe kan sy ryk bly staan? Julle sê mos Ek dryf bose geeste uit met die hulp van Beëlsebul.

19. As Ek wel deur Beëlsebul bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle eie volgelinge dit dan? Dus, hulle bewys self dat julle verkeerd is.

20. Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.

21. “Wanneer 'n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig.

22. Maar as daar een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al die wapens af waarop hy hom verlaat het, en hy verdeel sy besittings as buit.

23. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.”

24. “Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’

25. Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant.

26. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n man slegter daaraan toe as aan die begin.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 11