Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10:7-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon.

8. As julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit.

9. Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’

10. Maar as julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê:

11. ‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’

12. Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp.

13. “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het.

14. Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle.

15. En jy, Kapernaum, dink jy jý sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal!

16. “Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”

17. Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.”

18. Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val.

19. Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.

20. En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 10