Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10:33-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

33. Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.

34. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na 'n herberg toe geneem en hom daar verder versorg.

35. Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’

36. “Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”

37. Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

38. Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het.

39. Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het.

40. Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”

Lees volledige hoofstuk Lukas 10