Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan.

2. Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.

3. Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.

4. “Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie.

5. As julle in 'n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’

6. As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom.

7. Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon.

8. As julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit.

9. Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’

10. Maar as julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê:

11. ‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’

12. Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp.

13. “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het.

Lees volledige hoofstuk Lukas 10