Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 1:5-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is.

6. Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is.

7. Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en 'n getroue dienaar van Christus in julle belang.

8. Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.

9. Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken,

10. sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.

11. Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.

12. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.

Lees volledige hoofstuk Kolossense 1