Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 4:20-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar 'n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.”

21. Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom 'n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.

22. Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.

23. Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.

24. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”

25. Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.”

26. Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”

27. Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met 'n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.

28. Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê:

29. “Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”

30. Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.

31. Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog 'n stukkie.”

32. Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.”

33. Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?”

34. Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.

Lees volledige hoofstuk Johannes 4