Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:44-57 Afrikaans 1983 (AFR83)

44. Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

45. Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

46. Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het.

47. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens.

48. As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.”

49. Een van hulle, 'n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks,

50. en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.”

51. Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe.

52. En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring.

53. Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak.

54. Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels 'n rukkie gebly.

55. Die paasfees van die Jode was naby. Baie mense het voor die paasfees van die platteland af na Jerusalem toe gegaan om hulle te reinig.

56. Hulle het daar na Jesus gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: “Hoe dink julle? Hy sal seker nie fees toe kom nie, of hoe?”

57. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe al klaar opdrag gegee dat as iemand weet waar Hy is, hy dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kan neem.

Lees volledige hoofstuk Johannes 11