Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:40-50 Afrikaans 1983 (AFR83)

40. Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41. Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het.

42. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43. Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!”

44. Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

45. Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

46. Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het.

47. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens.

48. As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.”

49. Een van hulle, 'n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks,

50. en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 11