Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:20-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit.

21. Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.

22. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23. Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24. Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25. Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;

26. en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27. “Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

28. Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 11